Te danke aan skenkings van twee befondsers het Leap to Know ’n geletterdheidsprogram in Afrikaans ontwikkel wat ons by sowat nege skole in die Wes-Kaap gratis kon implementeer. Hierdie skole het reeds voorheen Android tablette met die Leap to Know Skoolgereedheid program aangeskaf. Leerders was dus reeds bekend met Kwakie en die uitdagings van werk op ’n tablet.
Die Leap to Know Geletterdheid program volg die Leap to Know Skoolgereedheid program op. Leerders leer letters klank binne die konteks van stories. Hulle leer ook letters skryf en woorde bou. Uiteindelik kan leerders die stories sonder hulp lees.
Gedurende Mei 2021 het Leap to Know die opgegradeerde Skoolgereedheid en die nuwe Geletterdheid programme in Afrikaans op tablette van 9 skole in die Wes-Kaap geïnstalleer. Hierdie was ‘n geleentheid om weer met opvoeders te gesels oor hul ervaring, frustrasies en uitdagings met tablet-implementering in die klaskamer.
Volgens opvoeders Ann-Margeret Piquer en Elmarie Smit het Leap to Know se “Kwakie program” sukses op verskeie vlakke meegebring: “Die Graad 1 leerders se luistervaardighede, fokus en motivering het verbeter terwyl hulle ook essensiële konsepte kon hersien en baasraak.”
Leap to Know is eersdaags ook op die Play Store. Hou die nuus dop…